Clarizka (Kika) Opperman - G713

Clarizka (Kikatjie) Opperman is op twintig jarige ouderdom al ‘n ervare ovaalbaanjaer, en blits al sedert 15 jarige ouderdom bane landswyd aan die brand.


Haar belangstelling in motorsport moet seker geneties wees, want pa Deon het jare gelede gery, alhoewel sy net vaagweg onthou daarvan.


Toe sy destyds (toe in graad 10) vra of sy kan begin deelneem, het Deon haar aangemoedig, en kort voor lank is die eerste VW Golf vir R450 aangeskaf by ‘n skrootwerf op George.

Sedertdien het sy al groot hoogtes bereik, en haar trofee kas groei by die dag, maar haar trotste prestasie is die verkryging van haar Suid Westelike Distrikte kleure in 2009, slegs 2 jaar en 3 maande vandat sy toegetree het tot die sport. Haar SWD baadjie en balkie is een van haar kosbaarste besittings.


Wat min mense van die publiek weet, is dat alhoewel sy ‘n klein en tengerige meisie is, sy grootliks haar eie kar bou en onderhou. Oor naweke is sy tuis in haar oorpak en met olie besmeer, sy doen onder meer self haar enjins oor, swaai ‘n ‘spanner’ met die bedrewenheid van ‘n ‘mechanic’, en spuitverf self haar kar. Sy beoog om om verder te studeer en ‘n meganiese kwalifikasie te verwerf.


Clarizka bedryf tans haar eie vrugte en groente groothandel onderneming te Riversdal.


Clarizka se entoesiasme en passie vir haar sport is aansteeklik. Sy is vasbeslote om haar stempel verder af te druk op die manlik gedomineerde sport. In haar eie woorde: “Karre, spoed en adrenalien is my stapelvoedsel. Ek geniet elke oomblik daarvan, en ek ry omdat ek dit geniet, nie noodwendig om te wen nie. Maar as die vlag val moet die manne padgee!” Sy is nie baie senuweeagtig voor wedrenne nie, maar sê sy kry nog “butterflies” voor groot wedrenne.
 


Clarizka het in die Development klas begin maar neem tans deel in die gemodifiseerde 1600cc klas.