Charl Walters - G43 

Charl Walters is ons huidige voorsitter. 33 Jaar oud en getroud met Rinda, en kroos Nicole (5) en Malan (3).

 

Charl is in konstruksie en verkope in George. Charl se blootstelling aan die sport stem van Goodwood se Cape Helldrivers dae af, toe sy pa-hulle daar betrokke was. Alhoewel nog ‘n pikkie onthou hy dit het sy belangstelling al kleintyd geprikkel.

 

Op skool het Charl so ‘n bietjie karting gedoen (in die Kaap, maar niks te ernstig nie) tot hy agter die stuur geklim het van sy pragtige en haastige Super Midget, en ry van meet af in hierdie klas. Sy grootste prestasie is toe hy met relatief min ondervinding by Worcester die “Driver of the Day” trofee gekry het terwyl hy meegeding het teen manne soos Wessel Rabe.

 

Die senuwees is maar daar voor ‘n wedren, maar hy beskryf dit as ‘n lekker senuwees.

 

Charl kry darem hulp van ‘n paar borge, en hy gee graag erkenning aan ‘n klompie mense en instansies wat help, naamlik Apollo Panelbeaters (PJ Adams), Expressions Signs (William Steyn), Air Equipt (Crew Chief Denis Geldenhuis), VPS Paint Protection(Clinton & Deon), Custom 101(Jeandre), Ziggy's Yamaha(Ziggy & Braam), Mac's Electrical (Oom Len & Carel), Solly(pitmac), Raymond, en hy voeg by: “My ma, my Pa, ja dit is omtrent al my banke. Hehehe. Ek dink iemand se familie of naaste is seker maar jou grootste ondersteuners, veral jou kinders, hulle sien mos nooit jou foute wat jy maak (reg of verkeerd) raak nie, maar in alle eerlikheid dink ek my pa is definitief my grooste ondersteuner.”

 

Op die vraag of hy ry met ‘n wenmotief of pure genot antwoord hy gelate: “Weet jy, ons almal se ons ry vir die genot maar tog binne jou, as jy daardie helmet op jou kop sit en die belde styf trek is daar tog 'n "competitive" kant wat in ons wakker word. Ek glo net party mense hanteer 'n verloor baie beter as ander.”

 

Charl doen uitstekende werk mbt. bemarking van die klub en sy aspirasie vir die toekoms is dat stockcars 'n meer professionele sport moet word. Hy voeg by: “Ek geniet die sport verskriklik baie en ontmoet elke dag ander mense wat vir my baie lekker is. Die kameraadskap onder drywers en klub lede, die saam kuier tussen jou en die kompetisie op die baan en pelle van die baan af na 'n race om die vuur. Soveel verskillende mense met verskillende agtergronde wat lekker met mekaar kan kuier. Dit is al die klein goedjies wat die sport so lekker maak, o ja, en die reuk van METHANOL...."

 

Op ligter (of is dit swaarder?) noot: Charl is seker een van die dikste ouens in die sport wat een van die kleinste karretjies ry.