Peet van der Merwe - G4


Peet van der Merwe, 48, is die klub se vorige voorsitter en gentleman van formaat.

Hy is 'n apteker en eienaar van Kris-kem Apteek te George.

Op die vraag van hoe hy betrokke geraak by Stockars? En wanneer? “Ek het in 2003 begin ry omdat drie van ons met 'n bier in die hand langs die baan gestaan het en grootbek vir mekaar vertel het dat ons net so goed soos die ander manne kan ry. F#*k!”

Hy het begin in die ontwikkelingsklas, daarna 1660’s, asook 'n paar wedrenne in die Klassieke V8's. Tans jaag hy in die Hotrod klas met sy 1600cc tjorretjie, en maak hul naam nogal dikwels gat.

Hoe was jou eerste paar race ervarings? Ervaar jy nog senuwees?: “Voor my eerste wedren het ek gebid vir reën sodat die wedren afgestel kon word. Ek dink ek word nou nog gestraf daarvoor, want voor elke wedren moet ek vier Imodiums drink! Regtig...”

Peet het al aan heelwat 4x4 kompetisies deelgeneem en 'n paar gewen. Drag racing en gymkhana's het hom ook 'n paar naweke besig gehou. Sy trotste prestasie is die algehele tweede plek wat hy in die Hotrods behaal het op een van die bene van die SA Nasionale Kampioenskappe in 2009.

Soos baie ander ry hy met geen borge nie en knyp maar af waar hy kan. PJ van Apollo Panelbeaters help so af en toe met 'n nuwe bakwerk.

Of hy ry met 'n wen motief of vir pure genot?: “Ek het begin jaag met die idee dat ek net vir die lekker wil ry. Hierdie voorneme het egter presies twee rondtes gehou. Wen is geweldig lekker, maar net om deel te neem, is alreeds 'n voorreg.”

Aspirasies? “Ek sou graag 'n Champion of Champions wou wen, maar dit sal maar neuk!"

Peet is mal oor die sterre en die ruimte en lees graag daaroor. Volgens hom is dit die een waarneembare aspek waar Godsdiens en Wetenskap heerlik oorvleuel.

Peet se pienk kar het al baie reaksie ontlok, maar daar is eintlik ‘n diep storie daar agter. Pienk is die kleur van kankerbewustheid en sy vrou het kanker gehad, maar sy is in haar behandelingtydperk tragies in 'n motorongeluk oorlede.