Burger van der Westhuizen - D67


Burger van der Westhuizen, slegs 14 jaar oud, het reeds op 12 jarige ouderdom op die ovaalbaan toneel verskyn en “what an entrance!” Hierdie jong man het met rasse skrede naam gemaak as ‘n drywer met ontapbare potensiaal en dwing bewondering af met sy koelkop benadering en kalm styl. 

Hierdie graad 9 skolier by Langenhoven Gimnasium te Oudtshoorn het betrokke geraak deur sy pa, amper legendariese “Dirk die Skurk”, voorsitter van Oudtshoorn Motorklub en voormalige jaer in die welbekende geel MK1 Escort.

Na slegs 2 jaar in die sport is sy deelname rekord indrukwekkend: Sy eerste wedren was op 20 September 2008 in die SWD ontwikkelingsklas. Hy het 23 wedrenne op Oudtshoorn, George, Worcester, PEOTR en Victory Raceway in die SWD ontwikkelingsklas gery voordat hy op 1 Mei 2010 opgeskuif het na 1660's. Sederdien het hy 12 wedrenne in die 1660's op Oudtshoorn, George, Worcester, Kleinplaas en Victory Raceway gery.

En hoe ervaar die jong man wat met sy kop ry, senuwees?: “My pa is die een wat op sy senuwees raak, veral as ons die motor voorberei, maar hy is redelik kalm by die baan, veral as hy by Sydney en Steven (Pick) is.”

Wat borge en hulp aanbetref, Carl Ballan van Sedgefield het aanvanklik die Golf gekoop en vir Sydney betaal om die "rollcage" te bou en die sye van glasvesel te maak. Hy het sederdien 'n kontantborg van SDL wat 'n netwerk maatskappy is,  “…maar ons grootste borg vanaf dag een is Sydney van Rensburg van SYRAH Racing. Hy gee nie net raad oor hoe om die motor op te stel en te ry nie, maar is ook grootliks verantwoordelik vir die onderhoud aan die motor.  Dan natuurlik is my pa en ma altyd daar om my te ondersteun”

As gevolg van sy ouderdom het hy nog net aan ovaalbaanwedrenne deelgeneem. “Ons het ook na die laaste wedren in PE met "oom" Eric (de Kock) se Lotus 7 om Scribante gaan jaag. Dit was die eerste keer dat ek links en regs gedraai het en ratte verwissel het op 'n baan. Ek het bietjie gesukkel omdat ek net left foot braking ken en doen, maar dit het stelselmatig beter geraak”

Ry jy met 'n sterk wenmotief of vir pure genot? “Ons ry uiters kompeterend, maar op hierdie stadium speel die uitslag van die wedren geen rol nie. Wat veel meer belangrik is is om te kompeteer sonder om kontak te maak, met ander woorde om die ander deelnemers skoon verby te steek. Ek wil graag onder my mede renjaers bekend staan as 'n harde, maar skoon ryer.”

Burger se toekoms aspirasies is om te gaan NASCARS jaag in Amerika. Behalwe vir sy motorsport speel hy hokkie vir Langenhoven Gimnasium en Oudtshoorn Skole.

En ‘n snaaksigheid wat hy wil deel? “My pa haat groen en ons mag met niks wat groen is aan die motor werk of aantrek as ons aan die motor werk of jaag nie. Hy hou nie eers daarvan as mense met groen motors langs ons parkeer nie en help hulle ook nie om om hulle motor op of af van die sleepwa te stoot nie. Ek wonder wat sal gebeur as ons 'n groot borg kry wat se kenmerkende kleure groen is…..”