Braam Koen - G46


Braam Koen (29) bly op George en is getroud met Ilze (29) en het ‘n vierjarige woelwater, AJ (4).

Die oorgrote meerderheid drywers het groot respek vir Braam se ‘driving style’, en is dit eens dat dit ‘n plesier is om teen hom te jaag, want jy weet hy ry hard maar laat altyd vir ‘n opponent ‘n spasie waar dit geregverdig is. Dit strook met Braam se gedrag van die baan af, ‘n ‘true gentleman’ en ware rolmodel van ‘n fyn opgevoede sportman.

Braam is in vennootskap met Ziggy Jonker, en hulle verskaf en diens (sekerlik vinnige?) golfkarretjies.

“Ek kyk al stockars vanaf std 4, en het oom Danie Botha en oom Billy de la Rey gehelp vanaf std. 6 af.”

Braam ry tans in die 2.1 modified klas, en het voorheen modified contacts gery.


Hoe was jou eerste paar race ervarings? Ervaar jy nog senuwees?: “Die eerste keer het ek gedink dit kan nie te moeilik wees nie, maar by die 2de heat het ek goeie maaitjies gemaak met die muur en dit was toe die einde van die aand.” En dan voeg hy ‘n ‘profound statement’ by:  “Enige iemand wat nie senuwees het voor ‘n race nie, het nog nie vinnig genoeg gery nie!”


Sy beste prestasies was in 2009, toe hy die Champ of Champs gewen het, 2de in die Klein Karoo Kampioenskappe,  3de in die Nationals, Klub kampioen en SWD kampioen. Voorwaar ‘n indrukwekkende rekord jaar!

Braam gee graag krediet as volg: “Sonder borge sal dit nie vir my moontlik wees om hierdie sport te kan beoefen nie. Dankie aan Kirsten en Tulleken Vervoer wat my al die afgelope 8 jaar borg met petrol, Dynamic panelbeaters vir die bakwerk, Expression signs vir die stickers, Silencer en CV shop (Koko) vir die CV's, Hydra tech vir al die draaibank werk, South Cape Engineering vir al die ysters en welders se gebruik elke keer. Dan vir my Swaer, Tiaan Olivier, sonder hom sal dit ook nie moontlik wees om elke keer gereed te wees vir wedenne nie. Hy is altyd daar om te help en te sorg die kar 100% reg is. Dankie Tiaan, ek waardeer dit opreg. Dankie Donald vir jou hulp, en Ziggy dankie vir al daai fyn details wat so groot verskil maak altyd. Dankie vir my hele familie wat my altyd bystaan en laaste, maar die belangrikste, my vrou en kind, dankie vir al julle aanmoediging en geduld. Ek is baie lief vir julle al skree AJ vir oom Neels en nie vir my nie!!”


Ry jy met 'n sterk wenmotief of vir pure genot?: “Ek ry om te wen, maar kan ‘n verloor vat!”


Watter aspirasies het jy vir nou en/of die toekoms?: “Daar is baie vinnige drywers in die land. Ek wil nog elke een op sy eie baan wen”


Braam deel iets persoonliks met ons: “Ek is ‘n groot Neels van Rooyen fan. Van kleins af skree ek al vir hom. Ek het nooit gedink ek sal die voorreg hê om teen hom te kan ry nie. Hy is een van die beste ovaalbaan drywers wat daar nog was. Ek het so ‘n klein speel Beetle karretjie wat ek in std 4 groen geverf het met die nommer H2 (wat sy nommer daardie tyd was), wat tussen my trofees staan by my huis”

Nou toe Braam , gaan wen hom op sy (julle) tuisbaan!!